Die SAVI-tydskrif, Muratho, se onderhoud met die Folio-groep | Folio Online Translation & Interpreter Company

Die SAVI-tydskrif, Muratho, se onderhoud met die Folio-groep

Folio featured in the latest version of Muratho, Journal of the South African Translators’ Institute.
Volume 17, Number 2, October 2017.

Laetitia Sullivan interviewed Director, Johan Botha (Folio Online), and Senior Manager, Simon Hill (Folio Translation Consultants), after Folio was recently recognized by Common Sense Advisory as the second largest language service provider in Africa for 2016/17.

Folio Online doen dit weer!

Folio Online is onlangs deur Common Sense Advisory, ’n onafhanklike marknavorsingsmaatskappy wat op die vertaalbedryf fokus, as die tweede grootste taaldiensverskaffer in Afrika aangewys. Dit is die agtste keer wat hierdie eer Folio toekom. Ek het met Johan Botha (direkteur: Folio Online) en Simon Hill (senior bestuurder: Folio Translation Consultants) gesels oor hierdie uitsonderlike prestasie.

Wat is die vernaamste kriteria waarvolgens Folio beoordeel is?
Was dit net op omset gegrond of is daar ander faktore wat ook ’n rol speel?

Johan: Die voltooiing van die opname neem letterlik ’n hele dag, waarin jy jou maatskappy tot in die fynste besonderhede moet ontleed: aantal mense in posisies, uiteensetting van pligte, industrieë waarin jy werk, diensverskaffers se persentasies, kliënte se persentasies, aantal dienste wat jy bied, presies hoe daardie dienste deel uitmaak van die geheel, ens. Die uiteindelike hooffaktor is wél omset geneem oor ’n jaar, maar die breedvoerigheid van die opname is, myns insiens, die heel beste ontleding elke jaar van waar die industrie staan en die vooruitsigte vir die bedryf as ’n geheel: Common Sense Advisory.

Wat is die stand van die vertaalbedryf in Suid-Afrika en toon dit ook groei soos wat internasionaal die geval is?

Johan: In Suid-Afrika is die groei op die oog af goed weens al die amptelike tale, maar ongelukkig dring die publiek nie juis aan op materiaal in hul eie taal nie. Indien hulle sou (soos waarvoor in die Grondwet voorsiening gemaak word), sou die bedryf baie vinniger groei. Internasionaal is maatskappye en kliënte meer daarop ingestel dat ’n produk beter kan verkoop wanneer mense in hul eie taal bedien word.

Simon: Te oordeel aan die aantal vertaalmaatskappye wat in die afgelope dekade hul verskyning in Suid-Afrika gemaak het, blyk die plaaslike vertaalbedryf gesond te wees. Die grootste uitdaging bly egter steeds om Suid-Afrikaanse kliënte te oortuig om van professionele taaldienste gebruik te maak. Te veel maatskappye doen hul vertalings self (bv. deur ongekwalifiseerde werknemers te vra om ’n vertaling te doen bloot omdat hulle ’n taal kan praat).

Oor watter eienskappe beskik Folio wat die maatskappy van ander vertaalagentskappe onderskei?

Johan: Ek het ’n ruk gelede aan ’n prominente gesprek deelgeneem oor die voordeel daarvan om projekbestuurders in diens te hê wat ook persoonlik weet hoe om die werk te doen wat aangevra word. Ons weet wat gehalte is, waar ander projekbestuurders goed net inkry en weer uitstuur sonder om noodwendig eers deur die teks te gaan. Ons diversiteit van dienste, tale en industrieë waarin ons werk (bv. IT, medies, reklame), asook die feit dat ons tred hou met die nuutste tegnologie, is ander faktore wat ook tot ons voordeel strek.

Simon: Die belangrikste faktor is die feit dat Folio se projekbestuurders in die eerste plek vertalers is, en dán projekbestuurders. Ons het dus ’n begrip van en liefde vir die ‘produk’ waarmee ons werk, en verstaan as bemiddelaars beide die kliënt, asook vryskutvertalers se behoeftes.

Wat is Folio se siening oor masjienvertaling en die vooruitgang in vertaaltegnologie?

Johan: Vertaalsagteware is vandag die norm. Dit maak goeie vertalers vinniger en beter! Masjienvertaling is tans waarskynlik die nommer-een-gevaar vir mense wat dink vertaling sal in sy huidige stand voortleef. As ’n mens masjienvertaling van vyf jaar gelede teenoor nou vergelyk, is die resultate eintlik skokkend. Ek dink nie mense sal eensklaps deur masjiene vervang word nie, maar iemand wat net op sy louere rus en nie ’n plan het om sy dienste aan te pas nie, gaan vou. Maar as ’n mens in ag neem dat die hoeveelheid inligting in die wêreld wat vertaal word net ’n breukdeel is van die inligting wat daagliks geskep word, gaan vertalers (in die toekoms dalk redigeerders?) nog vir ’n rukkie baie hê om te doen.

Simon: Hoewel taal nie ’n absolute wetenskap is nie, kan ons bedryf nie bekostig om aan te hou vasskop teen masjienvertaling nie. Die feit is dat masjienvertaling al hoe beter word en waarskynlik tot só ’n mate sal verbeter dat ons in die toekoms fasiliteerders (lees: redigeerders) eerder as vertalers gaan wees.

Wat behels Folio se gehalteversekeringsproses om vertalings wat persgereed is aan kliënte te lewer?

Johan: Ons verkies gegradueerdes met opleiding in die industrie of in die taal waarin hy/sy vertaal, wat 95% van die tyd die persoon se moedertaal moet wees. Iemand moet werklik uitmuntend wees voordat ons die persoon sal gebruik in ’n taal wat nie sy/haar moedertaal is nie.

Simon: Ons moedig kliënte altyd aan om die vertaler-plus-proefleser-opsie te gebruik. Ons vind twee stelle oë is altyd beter as een. Onthou, selfs die beste vertaler is ook maar net mens en kan ’n fout maak! Ons as projekbestuurders doen ook ons deel om vertalings na te gaan (selfs in tale wat ons nie praat nie!). Laastens bied ons as deel van ons vertaaldiens ’n finale proeflees ná die uitlegproses, wat noodsaaklik is vir byvoorbeeld advertensies.

Watter beoordelingsproses gebruik Folio om vertalers te evalueer voor hulle as diensverskaffers gebruik word?

Simon: Die evaluering begin reeds by die dekbrief en CV. As kandidate reeds in hul aansoek taalfoute begaan, is hulle waarskynlik in die verkeerde bedryf! Die minimumvereiste is dat al ons vertalers ’n universiteitsgraad voltooi het – dit hoef nie noodwendig in vertaling te wees nie, alhoewel dit natuurlik ’n groot voordeel is. Hierna vra ons die kandidaat om ’n toetsvertaling te doen, wat ons evalueer. Indien die gehalte goed is, sal ons die vertaler op ons databasis plaas en, wanneer nodig, eers op iets kleins laat werk voordat iets groter aangepak word. In sekere tale is die poel van goeie vertalers egter so groot dat dit soms haas onmoontlik is vir ’n nuwe vertaler om ‘deur te breek’, soos byvoorbeeld Afrikaans.

Wat beskou Folio as ’n leemte in die algemene opleiding van vertalers?

Johan: ’n Groot leemte is die feit dat min vryskutvertalers werklik besef hoeveel administratiewe werk dit behels om ’n taaldiensverskaffer te wees. Jy kan die beste vryskutvertaler in die wêreld wees, maar as jy nie jouself bemark, jou e-posse blitsig en korrek beantwoord, tydsbeplanning doen, fakture betyds stuur en ’n dik vel ontwikkel nie, gaan jy dit nie maak nie. Projekbestuur as ’n klein module sal van onskatbare waarde vir ’n vertaler wees as deel van hul basiese opleiding.

Simon: Plaaslike vertalers is oor die algemeen nog onwillig om vertaalsagteware aan te skaf en/of te gebruik. Oorsee is vertaalsagteware onontbeerlik en vertalers kan nie meer daarsonder kompeteer nie. Hierdie tendens is stadig maar seker besig om Suid-Afrika te bereik, en kort voor lank gaan dit vir plaaslike opleidingsinstansies noodsaaklik wees om vertaalsagteware verpligtend vir ’n vertaalkursus te maak.

Vir watter tale kry Folio die meeste versoeke en spesifiek vir watter sektor?

Johan: Swahili is nou reusagtig (met ongeveer 100 miljoen sprekers) en internasionale kliënte is gretig om hierdie reusemark te betree. Amharies het weer gegroei van versoeke een keer elke vyf maande na daagliks. Sektore soos die IT-bedryf, selfone en medies bly die grootstes vir Afrika.

Simon: Plaaslik is die algemeenste versoeke tans vir Frans en Portugees (hoofsaaklik vir die Afrikamark). Ons kry steeds baie Afrikaanse versoeke, met Xhosa, Zulu en Suid-Sotho ’n kortkop agter, asook versoeke vir vertaling in al die ander amptelike landstale. Die taalversoeke wat die afgelope paar jaar die meeste toegeneem het, is Arabies, Chinees en Russies.

Wat is die mees ongewone of vreemdste vertaalversoek wat Folio al ooit ontvang het?

Johan: Te veel om op te noem! Een van die versoeke waaroor ek steeds lag, is toe ek gevra is om te kwoteer om die sekstoneel vir ’n fliek se onderskrifte te vertaal. Die video is natuurlik saamgestuur as verwysing!

Simon: Ek is verbaas hoe ek ná 11 jaar as projekbestuurder by Folio steeds versoeke kry vir tale waarvan ek nog nooit gehoor het nie, soos byvoorbeeld Bomu – ’n taal wat deur sowat 160 000 mense in Burkina Faso en Mali gepraat word. Die ongewoonste versoek bly egter die keer toe ’n vrou vir my foto’s van haar Persiese muurtapyt stuur en vra dat ons die Oud-Persiese skrif op die tapyt probeer ontsyfer. Ons het die uitdaging aanvaar en dit het ons geïnspireer om ’n Facebook-storie daaroor te skryf!

Projekbestuur is ’n baie stresvolle werk.
Wat doen julle as projekbestuurders in jul vrye tyd om te ontspan?

Johan: My beste stresontlaaier is om tyd saam met my vrou en jong seuntjie te spandeer. Lees bied ook vir my baie ontspanning, want dit is gewoonlik ver verwyder van die materiaal waarmee ek daagliks werk. Die keramiekwiel is nog iets wat die stres teenwerk en ek sou sonder musiek ook nie kon oorleef nie.

Simon: Dit klink dalk vreemd, maar vandat ek elke dag met tekste werk, beskou ek boeklees nie meer as ontspanning nie – ek dink heeltyd in my agterkop ek moet proeflees! Ek probeer dus om soveel as moontlik tyd met my jong gesin deur te bring om behoorlik af te skakel.

Laetitia Sullivan is ’n beëdigde vertaler en vryskuttaalpraktisyn wat al meer as ’n dekade in die uitgewersbedryf werksaam is. Sy spesialiseer in narratiewe niefiksie, leefstyltitels en opvoedkundige boeke (www.laetitiasullivan.weebly.com).

Comments are closed.