Ontmoet ons nuwe vakleerling Elizé Lottering

Vandat ek kan onthou, wil ek myself uitleef in alles wat kreatiwiteit behels. Ek is baie dankbaar dat my ma ons van kleins af boeke by die biblioteek laat uitneem het – daar het my liefde vir woorde en verbeeldingsreise begin vorm aanneem.

Ek het besef dat ek my kreatiwiteit ook in taal kan uitleef deur vir my skoolkoerant te skryf en op die redaksie te dien. Musiek, drama, eisteddfods, leeskompetisies en redenaars het my behoefte aan kreatiwiteit verder aangevul.

Toe ek uiteindelik moes besluit wat ek gaan studeer, was daar een van twee opsies waaruit ek wou kies: taal (kommunikasie, drama, joernalistiek), of die menslike liggaam (sportwetenskap, biokinetika, arbeidsterapie). Die menslike liggaam fassineer my, omdat ek aan sport deelneem en dit baie geniet. Ek kon ook voor my geestesoog sien hoe ek my kennis toepas deur rehabilitasie- en oefenprogramme aan te pas, om sodoende ’n beter uitkoms vir my pasiënte te bied. Alhoewel ek hierdie studieveld steeds interessant vind, het ek destyds besef dat ek myself méér in die wêreld van taal sou kon uitleef. In die taalwêreld is my “rehabilitasieprogram” die kennis wat ek toepas om die beste uitkomste vir my “pasiënte” (tekste) te verseker.

Ek het my BA Taal- en Kultuurgraad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en is tans besig met my Honneurs in Taalpraktyk. Hierdie graad het my belangstelling geprikkel, omdat ek ’n oog het vir detail, my persoonlikheid binne reëls floreer (in hierdie geval taalreëls), dit interessant is hoe een gedagte op baie maniere geformuleer kan word en ek kon sien hoe my vaardighede prakties toegepas kan word. Taalversorging bevorder ook goeie en duidelike kommunikasie – kommunikasie is immers een van die belangrikste vaardighede as dit by goeie menseverhoudinge kom!

Taal laat my toe om brûe tussen mense te bou, en as ’n meisie van ’n klein plattelandse dorpie gaan dit my verstand te bowe dat ek nou met mense regoor die wêreld kan kommunikeer.

Toe ek op skool van my vriende met hulle taal gehelp het en vandat ek Afrikaanse en Engelse tutoriaalklasse begin gee het, het ek besef hoe graag ek my liefde vir tale ook met ander wil deel.

Folio help my met my finale Honneurswerkstuk en dit is vir my ’n gróót voorreg om ’n week hier te kan bestee. Ek waardeer hierdie gulde geleentheid en is vreeslik opgewonde oor wat ek nóg oor die taalwêreld gaan leer!