Ontmoet ons nuwe vakleerling Marizaan Brink

My liefde vir taal is al van kleins af baie prominent. Ek onthou hoe ek as jong dogtertjie my boekies oor en oor gelees het, totdat ek die woorde kon opsê. Ek onthou hoe ek stories in my pienk ballerina-dagboek geskryf het en die boekie met ’n slotjie gesluit het sodat niemand dit kon lees nie. Ek onthou ook hoe ek soms vir die lekkerte deur die swaar woordeboek in my kamer geblaai het om nuwe woorde te soek. My verbeelding was maar nog altyd baie groot.

Saam met my liefde vir taal het ek ook ’n groot passie vir die kunste. Drama, dans, lees en skryf is deel van my wese, en ek probeer om my brein daagliks te stimuleer deur op enige moontlike manier kreatief te bly. Die regterkant van my brein wil nooit afskakel nie. Ek dagdroom dikwels, proeflees die onderskrifte van televisieprogramme, en formuleer kort gediggies in my brein.

Deur die jare het my liefde vir taal net sterker geword en die dun leesboekies is nou romans en bundels wat my kamer vol staan. Daardie geslote dagboek het gegroei tot gedigte en kortverhale wat ek graag vir kompetisies inskryf en met mense deel. Die logge woordeboek is nou met die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls en Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde aangevul om my kennis van Afrikaans te verbreed.

As deel van my BA Taal- en Kultuurgraad en BA Honneursgraad in Afrikaans en Nederlands by Universiteit Stellenbosch het ek meer oor die fynere besonderhede van taal geleer en ’n nuwe deur het vir my oopgegaan – taalversorging. Ek het nog altyd in my hart geweet en geglo dat my toekomstige werk iets in die taalbedryf moet wees. As ek kan lees en skryf, vertaal, proeflees en redigeer is ek op my gelukkigste.

Ek het in Oktober vanjaar my MA-tesis in Afrikaans en Nederlands ingedien en die groot vraag op my vriende en familie se lippe is: “Wat gaan jy nóú doen?” Ek is Folio ewig dankbaar. Ek het die voorreg gehad om vir twee weke bietjie in hulle kantoor as vakleerling te kuier. Met die intrapslag het ek geweet dat ek my tyd gaan geniet. Hulle het my met ope arms verwelkom en ek het soveel in hierdie kort tydjie geleer. Dit was wonderlik om te kon sien wat die Folio-span alles doen en hulle passie vir hulle werk is aansteeklik.

Wat die toekoms vir hierdie klein-dorpie-dromer inhou, is nog duister. Maar een ding is verseker – my liefde vir taal en om met taal te werk is nou dieper as ooit. Voorlopig sal ek maar aanhou om my notaboeke vol stories te skryf (sonder om dit toe te sluit) en om die grammatika van my naastes te korrigeer!