As jy vir my drie jaar gelede gevra het of ek vir die res van my lewe wil vertaal, sou ek gehuiwer het oor my antwoord, en vandag huiwer ek steeds. Dit is nie vanweë ’n gebrek aan passie vir die vaardigheid as sodanig nie, maar eerder ’n nugter vrees vir ’n vryskutlewe waartydens elke maand onseker is. Laat ek eerder nie te veel uitbrei op my gevoelens teenoor die vertaalpraktyk nie – ek is dalk ’n bietjie te sinies daarvoor. My magistertesis fokus nie om dowe neute op die onderliggende praktyke van uitgewers van vertaalde tekste nie. Eenvoudig gestel: Ek geniet die proses wat die produk voortbring.
Lesers wat al na die vorige blogs gekyk het, sal weet dat die meeste vertaalstudente binne die eerste week heeltemal moes afstand doen van hulle idee van wat vertaling is – ek ingesluit. My aandag is vir die eerste keer vasgevang toe ek uitgewers en hul praktyke begin bestudeer het. Ek verwys hier na die praktyke wat ingespan word om publikasiekeuses te maak. Ek het opnuut besef dat die uitgewersbedryf en betrokke agente ten eerste besighede is. Dalk is dít hoe studente hulself moet posisioneer teenoor die bedryf. Jy moet dit beskou as ’n plek waar jy prakties te werk moet gaan, maar altyd ook die groter prentjie en die verskillende rolspelers in die bestuur van ’n suksesvolle besigheid in gedagte moet hou.
Ons kan ook nie die impak van tegnologie op die industrie oorskat nie. Dit sypel deur na alle fasette van die (ver)taalwêreld. As jy kyk na permanente poste wat aan beginners beskikbaar is, gaan dit gewoonlik gepaard met ’n hele lys vereistes waaraan jy moontlik nie blootstelling gehad het nie, tensy jy onafhanklik ervaring opgedoen het of opleiding ontvang het. ’n Mens kom hier by ’n vurk in die pad: Jy kan óf soek na werk wat spesifiek gerig is op jou presiese akademiese kwalifikasies, óf jy kan aanhou belê in jou toekoms. Die laaste blyk vir my ’n duur, dog nodige alternatief te wees.
Dit is dus ’n diep, donker gat waarin jy jouself kan bevind as jy vir werk begin soek, veral as jy op LinkedIn begin. Jy besef gou dat jou swaarverdiende cum laude eintlik min weeg in die groter taalwêreld. ’n Mens kan nie meer staatmaak op slegs ’n jaarlange honneursgraad of die tweejaar-meesters nie. Indien jy nie as spesifiek ’n redigeerder of vertaler aangestel word nie, moet jy veelsydig wees. Werknemers soek dikwels taalpraktisyns wat by alle aspekte van die skryf- of produksieproses betrokke kan wees. Jy kan gevolglik nie slegs op vertaal- en redigeervaardighede staatmaak nie; jy moet ook kopie en inhoud kan skryf, verskillende soorte programmatuur kan gebruik, en natuurlik ook projekte en spanne kan bestuur.
Dit is ook hier waar pasgegradueerdes kan sukkel. Alhoewel ons opleiding van hoë gehalte is, wil dit voorkom of die samestelling van beskikbare kursusse hersien moet word. Vertaal-, tolk- en redigeerteorie en -praktyk moet aangevul word deur die ontwikkeling van tegnologiese skryf- en toepassingsvaardighede. Dit sal ’n meer veelsydige taalpraktisyn voortbring. Die werkslading wat daarmee gepaardgaan sal verdere aanpassings aan die beskikbare kursusse behels. In plaas van slegs ’n jaarlange honneursgraad sou praktisyns daarby baat om, soos ander meer prakties georiënteerde grade, ’n drie- of vierjaarlange graad te verwerf. ’n Vak waarin onderwerpe oor algemene taalpraktyke op teoretiese en praktiese vlak van eerstejaar af aangebied word, sou baie voordelig wees. Dit sou gevolg kon word deur ’n nagraadse opsie in hierdie veld, soortgelyk aan die honneurs in taalpraktyk wat tans aangebied word.
Robin, die vakleerling voor my, se blogplasing het geraak aan die impak van kunsmatige intelligensie op die taalkonsultant se werkswyse. Voornemende praktisyns moet ’n simbiotiese verhouding met tegnologie kweek om die produkte wat hul lewer so toeganklik moontlik vir verbruikers te maak. Kunsmatige intelligensie kom dus in verskillende gesprekke voor, veral oor die meer permanente plek wat dit in die samelewing gaan inneem en hoe dit ons huidige sagtewarestelsels en bemarkingstrategieë gaan beïnvloed en verander.
Indien ons kyk na die verwikkelings wat tans in die industrie plaasvind, is daar vele toekomsmoontlikhede waarop maatskappye en individue hulself kan toespits. Die voordele van tegnologiese vooruitgang is verreikend en kan alreeds gesien word in die toepassings wat in die veld beskikbaar is. Daar is altyd ruimte vir groei en die buigbaarheid van die werknemer moet ook strek tot by die maatskappy self. Maatskappye moet hulself buigbaar genoeg maak om by die markaanvraag en die veranderings in die bedryf aan te pas. Ons wêreld is op etlike wyses verbind en só verbind ons ook oor taal- en landsgrense heen. Hierdie verbondenheid kan ons tot ons voordeel bly benut. Alhoewel daar geoutomatiseerde masjienvertaling- en skryftoepassings is, moet maatskappye kliënte attent maak op die onmisbaarheid van die human touch.
Drie jaar later voel die toekoms van die taalbedryf onseker. Die manier waarop ons hierdie onsekerheid benader, sal deurslaggewend wees.